Maandag 19 Augustus 2013

Leonard van der Merwe? Of Koos Cohen?


 http://kerkbode.co.za/leonard-van-der-merwe-of-koos-cohen/

Dit is nie sommer enigeen wat kan vertaal nie. Ook nie lirieke nie. En veral nie dié wat al ikoonstatus verwerf het nie. Maar FRANCOIS MULDER het pas ’n wonderlike Leonard Cohen-ontdekking gemaak. En dit is geen Van der Merwe-grap dié nie. Allermins. Hy beskryf dit as ’n meesterstuk.

Wyle George Weideman het die gawe ontvang. Baie ander vertalers van bekende/beroemde boeke ongelukkig nie. Ek onthou my pleitbrief in 2008 aan ’n Christelike uitgewer, met dié versoek: “Groot asseblief: Gebruik voortaan vertalers met sowel taalkundige as teologiese onderbou.” Want dikwels is oorhaastige vertaling en publikasie (om betyds die gewildheidsgolf van die oorspronklike werk te ry?) ’n verleentheid vir almal – veral vir die oorspronklike werk se aanhangers.
En ek kan my net indink hoe skaam die skrywers sou wees indien hulle Afrikaans sou kon verstaan – en dan moes uitvind wat van hulle kuns geword het. Maar selfs briljante vertalers het ook hulle frustrasies. Andries Cilliers, byvoorbeeld, meestervertaler wat hy is, skryf oor sy vertaling van CS Lewis se Mere Christianity: “Ek het sover moontlik die versoeking weerstaan om Lewis ‘meer eietyds’ te laat praat.” En dit is die frustrasie met alle literatuur- en kultuuruitinge: Dit dra altyd “die tekens van die tyd” – daardie spesifieke tydvak se merkers (soos Novilon-vloere in die kombuis, wat uitroep: “Ons is trots 1970!”).

Musikale debakels, maar … 
Ook Afrikaanse musiek het in die jare tagtig en negentig van die vorige eeu allerlei vertaal-debakels beleef – met sóveel gewilde Duitse melodieë wat skaamteloos gekaap is. Wat toe nuwe, middelmatige skeppings geword het. Alles ter wille van die magtige Mammon. En meestal ten koste van daardie tyd se werklike pioniers. Die Afrikaanse gospelmusiek-wêreld het dit nie vrygespring nie, en veral VSA-klone is voortgebring. Selfs Jan de Wet se wonderlik-vertaalde lied, “Hierdie Kind”, is in die VSA gebore – uit die pen van Scott Wesley Brown, en as “This Child”.
Maar toe sak Koos van der Merwe – komponis van die onvergeetlike “Houtkruis” en mede-profeet van die groep Prophet – in die blokke om ’n musikale ultramarathon aan te pak: Laat reg geskied aan een van die gewildste, diepsinnigste meesters van die folkmusiek-wêreld. Ja, ’n enigma. In Afrikaans. Én: Kry toestemming om dit aan te pak … by die meester self.

Onmoontlik? 
Die sweet het getap terwyl ’n Kanadees-Afrikaanse muse iets heiligs en besonders in kreatiwiteit se onbekende baarmoeder voortbring: Leonard Cohen wat hom voor jou kaggel kom tuis maak. En in jou hartstaal sing. Ja, Leonard Cohen in Afrikaans!

Prewelende troebadoer 
Om die nodige toestemming te kry, moes Koos sy arbeid voorlê, kompleet soos ’n proefskrif. En hy moes elke vertaalde sin weer in Engels terugvertaal. Met ’n verduideliking en verdediging daarby. Maar na ’n láng wag is hy, huppelend, ook hierdie hekkie oor. As akteur Chris Mulder in ’n Chris Chameleon kon verkleur – een wat soms ook BOO! skree en deesdae selfs ’n Afrikaanse doef-doef popster, Sarel Fourie, in “Fanie Fourie’s Lobola” kon speel, dan is dit seker moontlik vir ’n deurwinterde diepseun prediker-digter-sanger om in ’n Kanadese troebadoer te transformeer, een wat in Afrikaans prewel? Daantjie Badenhorst van Noot vir Noot-faam was aanvanklik (uit beginsel) skepties oor die projek. Maar na sy eerste luister, en nadat die album se 15de plek op die Suid-Afrikaanse Top 20 almal verras het, het Daantjie sy dinamiet-stempel van goedkeuring daarop geplak. Met dié woorde: “Ek het nie gedink ek gaan dit sê nie, maar ek hou regtig baie hiervan!”

Kom ons proe …
So, kom ons steek daardie kaggel aan en maak gereed vir ’n unieke wynproe – met die komplimente van Koos se kelder. Die vrug van die kreatiwiteitsdruif staan voor ons uitgestal: 14 bottels – elkeen uniek in aroma en tekstuur, maar beslis vanaf dieselfde Kanadees-Afrikaanse wingerdplaas.

Eers is ons sjampanje-vrolik.
En dans met “smeulende viole” (snit 1: “Dans my na die liefde toe”) voordat ons met ’n swaar Cabernet Sauvignon neerdaal na die koue “Babilon” (snit 2). Dan kuier ons in New York – met ’n Rosé in die hand en ’n blou reënjas aan die lyf (snit 3: “Beroemde blou reënjas”). ’n Merlot-gebed en daarná ’n Shiraz-knie-psalm dwing ons grond toe (snit 4: “As U dit so wil” en snit 5: “Halleluja”) waarna ons soos slawe om rigtingaanwysings bedel (snit 6: “Wys my die plek”). Op hierdie album is ons selde alleen, want “een vir een kom die gaste aan”. Daar word gedans, maar ook gedwaal en geween, sodat “die meeste hartverskeurd” uiteindelik die nag in loop – met die vraag: “Waarom het U my verlaat?” (snit 10: “Die gaste”).  Die verwysings na vroue in hierdie liedere laat doelbewus ’n soet sjerrie-smaak na.

Maar soms ook dié van ’n suur Riesling: Eers soek ons saam na die “Gypsy se vrou” (snit 9) en hoor die waarskuwing: “Tussen elke man en vrou kan iemand kom, maar is dit jy, dan sal jou oordeel kom.” Dan is ons in ’n fantasie-wêreld, waar Suzanne (snit 12) net verskyn “… in drome … ek sal haar nooit ken nie.” In “Almal weet dit wel” (snit 13) ontmoet ons die getroue metgesel, wat egter “… soveel mense … moes ontmoet – sonder klere om (haar) vel!” Batseba bind Dawid “aan haar kombuisstoel vas, breek sy troon en sny sy hare af”. Hooglied-liefde word besing, want “die Heilige Duif het saam beweeg en elke asemteug was Halleluja”. Maar ná die hartstog volg verwerping, en “nou leef ons in afstande … Jou oë is sag met hartseer” (snit 7: “Dis nie hoe ons totsiens moet sê”). In “Ballade van die wegloopmerrie” (snit 11) kry ons soveel méér as net die verhaal van ’n cowboy en sy perd. Hierdie ruiter fluister Rut-woorde: “Waar u ook al gaan, ek gaan ook daar.”
Maar die eenheid is kortstondig en ons wonder saam: “Wie breek dit weer stukkend net die volgende nag? Party sê dis hy, party sê dis sy, of sê liefde is soos rook – by regmaak verby …” Die skemerkelkie op die album is “Slaapliedjie” (snit 8), maar dit is eintlik woorde vir grootmense met bang harte: “Is jou hartjie bang? Dit verbaas my min! Is die nag te lank? Slapies as ek sing.” Ook die transendente kom gereeld voor: “Jesus was ’n skrynwerker wat waters kon betimmer. Daarom roep ons soos matrose in ons storms en ons skandes” (“Suzanne”). Met “Heilsleërflenters” aan sien ons “die bloedige kruis op Golgota” en die heilige hart wat versmelt (“Almal weet dit wel”). Die hoogtepunt in dié projek lê in die laaste proe.

Moenie dat die “Halleluja Reprise” (snit 14) jou flous nie. Ek het aangeneem dat dit dalk net die musiek is – soos baie ander “reprises” aan die einde van ’n album. Maar nee, hiérdie wyn is ’n versnit, met al 13 vorige wyne se inhoud perfek gemeng. Dus ’n sewe minuut, agt sekonde-lange kragtoer. Hier word ons oorrompel met ál die verskillende emosies waardeur ons reeds op dié album gegaan het. Ek kan nie onthou dat ek al ooit in één lied hoendervleis, trane, verslaentheid en smagtende hoop só kragtig beleef het nie. “Devastating” is dalk ’n gepaste woord. Van die ekstatiese, maar o so vernietigende Batseba-episode, deur die kritici se afjak, tot en met die brose verskyning voor die “Heer van Sang”. Koos se pleitende Halleluja’s aan die einde van dié lied kom vir my die naaste aan wat ek my Dawid se stem sou voorstel wanneer hy sy psalm-krete voor God uitstort.

Koos van der Merwe se vertalings is uiteindelik poëtiese omdigtings; daar is geen woord-vir-woord-dwingelandy nie. Hulle word kunswerke in eie reg – maar onmiskenbaar steeds Cohen. En Matthys Maree se verwerkings is nommerpas. Met van die beste sessie-musikante in ons land, is die palet perfek vir Koos se diepgeprewelde kwashale.   Psalmis én profeet Leonard Cohen ís soos die Bybelse Dawid – rou-eerlik, stukkend, passievol én hoopvol. In die mond en deur die hart van Koos van der Merwe rol Cohen se woorde en wysies getrou en outentiek op jou af.

Heel gepas dra Koos dan die album aan sy held op, met dié woorde: “Hy het ons lewe verryk deur ons in te laat in die heilige ruimte van sy verlange en liefde. Die woorde en wysies waarmee hy sy diepste wroeging vanuit stille skadu tot verhewe klank omskep het, help ons om te glo dat hemelse musiek uit stoflike pyn gebore kan word.” Ons sou Cohen inderdaad as ’n eietydse psalmis kon tipeer. En: “Polse sny-musiek?” terg-vra ek Koos oor ’n koppie koffie. Sy besliste antwoord: “Ek stem glad nie saam nie! Digters en psalmiste help ons om ons pyn, ons drome, ons vrese en ons hoop deur hulle kuns te verwoord. Gedeelde pyn is halwe pyn.” Cohen is egter ook gereeld ’n profeet – een wat ’n spieël vir die samelewing omhoog hou.

Veral in “Almal weet dit wel” is sy kritiek subtiel en vlymskerp. Sy Kanadese eweknie, Bruce Cockburn – ’n woord-en-wysie profeet in eie reg, en die fokus van teoloog Brian Walsh se nuutste boek – verwoord hierdie profetiese aspek van die digterslewe só in sy lied “Maybe the poet”: “Maybe you and he will not agree / But you need him to show you new ways to see – Pay attention to the poet / You need him and you know it”

My enigste klagte? Waar is die tekste wat binne-in die CD-boekie moes pryk? Dit is soos om ’n digbundel te koop … maar as jy dit oopmaak, vind jy net ’n CD met opnames van die digter wat sy gedigte voorlees. Hierdie kunswerk verdien dit nie. Mag dié onreg in ’n tweede oplaag reggestel word!

Hiervoor gebore … 
In elke prediker se boekrak, langs die oorspronklike Griekse Nuwe Testament en Hebreeuse Ou Testament, staan daar verskeie Bybelvertalings. Nét so hoort daar, langs die oorspronklike Cohen in jou CD-versameling, hierdie meesterstuk. En as jy nog nie in die wonderwêreld van sy musiek ingelyf is nie, is hierdie die perfekte kennismaking. Is dit beter as die oorspronklike? Verkeerde vraag!
Het Leonard Cohen (soos Ivan Rebroff in 1969) al ’n Afrikaanse CD opgeneem? Na dese antwoord ek: “Beslis ja!” Koos, jy is inderdaad, in jou eie woorde, “gebore om hierdie CD te maak”. Jou vriend, Jan Hoogendyk, het as Elvis Blue beroemd geword. Mag jy, as Koos Cohen, dít ook smaak. Oefen dus maar solank: “My name is Cohen, K-O-O-S Cohen.”

- Francois Mulder is predikant van die NG Gemeente Blanco op George. Hy en Jaco Strydom van Echo Jeugontwikkeling het tydens Pinksterweek hulle “Dominees-Boy-Band”, vertiSONtaal, gestig. Hy is ook voorsitter van die drukgroep genaamd “Druk Koos Cohen se woorde in die CD-omslag” (DKCWCD). ’n Volledige onthulling deur die skry­wer: “Ek het my CD aanlyn gekoop en was onder geen verpligting om ’n positiewe artikel en resensie te skryf nie.”

Geen opmerkings nie:

Plaas 'n opmerking